Monday, 1 February 2016

Ingemaakte Beet

Ingemaakte Beet

Bestanddele

2 bossies beet - ongeveer 600 g
500 ml bruinasyn
500 ml witsuiker
2 ml sout
Metode

Was die beet baie goed af en kook vir ongeveer 30 tot 40 minute.
Dreineer die beet, maar behou 500 ml van die beetwater.
Trek skille van beet af, sny blokkies of rasper beet.
Plaas die asyn, suiker, sout en beetwater in kastrol en verhit todat al die suiker opgelos is.
Roer deur en laat 5 tot 10 minute kook.
Voeg nou die beet by die beetstroop, en laat net deurkook.
Skep in gesterilliseerde flesse en maak dig toe.

Aarbeikonfyt

Aarbeikonfyt

(Sowat 500ml)

Bestanddele

1 kg aarbeie

1 kg suiker

100 ml water

Metode

Stap 1. Verwyder blaartjies van aarbeie en sny in stukke.

Stap 2. Plaas aarbeie, suiker en water in ’n kastrol. Verhit en hou aan met roer tot suiker gesmelt het. Die mengsel moenie begin kook voor die suiker nie gesmelt het nie.

Stap 3. Doop ’n kwassie in ’n bakkie koue water en vee die suiker wat teen die rand van die kastrol opkook daarmee af. Laat konfyt oor lae hitte prut vir sowat 30 – 40 minute.

Stap 4. Plaas ’n bordjie in die yskas. Drup van die stroop op die koue bord. Trek jou vinger deur die stroop en as dit oop bly, is die konfyt reg. Skep warm konfyt in gesteriliseerde flesse.

Tamatie en Rissie Konfyt

Tamatie en Rissie Konfyt

(Mikrogolf)

In ‘n groot, diep mikrogolf oondbak: 1 kg gekapte konfyttamaties en 1 gekapte brandrissie, plaas in mikrogolf oond op hoog vir 10 minute. Dit sal nou sag wees. Voeg volgende bestanddele by: driekwart kg suiker, 1 t fyn gemmer en half t sout, roer deur en plaas terug in mikrogolf. Kook vir 30 minute op hoog, maar roer elke 10 minute. Skep in gesteriliseerde botteltjies en merk. Heerlik as bedien met kaas bord en beskuitjies.

Kerriebone

Kerriebone

Bestanddele

• 300 g groenbone
• 25 ml mielieblom
• 225 ml appelasyn
• 15 ml matige kerriepoeier
• 5 ml komynsade
• 3 ml fyn borrie
• 260 ml (225 g) bruinsuiker
• 2 middelslag-uie, in blokkies gesny
• 5 ml mosterdpoeier
• 1 knoffelhuisie, fyngedruk
• 150 g gaar botter- of nierbone
• 150 g gaar suikerbone
• 5 ml gerasperde suurlemoenskil

Metode

1 Sny die groenboontjies se punte af en sny dit dan skuins-oor in twee of drie stukke. Kook dit vir ’n minuut in water met sout, dreineer dit en gooi dit in ’n bak met koue water.

2 Meng die mielieblom in ’n kastrol met ’n bietjie asyn tot glad. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die boontjies en suurlemoenskil, en 5 ml sout by en verhit dit tot kookpunt. Laat dit vir vyf minute prut.

3 Voeg al die boontjies en die suurlemoenskil by en verhit dit weer tot kookpunt. Kook dit vir ’n minuut, haal dit van die plaat af en skep dit in warm, gesteriliseerde flesse. Seël dit en laat dit afkoel. Dis die beste om dit in die yskas te hou.

Waartlemoenkonfyt

Waatlemoenkonfyt

Verwyder die groen skil en sagte binneste van ‘n maketaan waatlemoen.

Sny die wit skil in stukke.

Prik elke stuk baie goed met ‘n vurk en weeg die stukke.

Plaas die waatlemoen oornag in ‘n kalkoplossing gemaak van 12,5 ml kalk en 3,6 liter water.

Spoel die volgende dag baie goed af en laat in skoon water week vir ten minste 2 uur.

Plaas skoon water in ‘n groot kastrol en verhit tot kookpunt.

Voeg die stukke waatlemoen een vir een by terwyl die water voortdurend kook.

Indien die water ophou kook, sal die stukke pap word.

Kook tot die stukke helder is en ‘n tandestokkie maklik daardeur gesteek kan word.

Berei ‘n stroop voor :

In ‘n diep kastrol, bring 500 g suiker en 1 liter water vir elke 500 g waatlemoen tot kookpunt.

Roer aanhoudend tot suiker opgelos en dik begin raak.

Voeg die sap van 1 suurlemoen, ‘n knypie sout en 5 gemmerstukke by.

Voeg die stukke waatlemoen een vir een by kokende stroop en kook tot stukke helder en deurskynend is.

Pak in skoon gesteriliseerde bottels en verseël.

Lemoenskilrolletjies in stroop

Lemoenskilrolletjies in stroop

Was eers die lemoene baie mooi af.

Sny skil van bo na onder in ewe groot wiggies deur en trek af. Moenie die oranje skil laat breek nie.

Sny nou soveel moontlik van die wit in die skil af.

Rol op en steek met stokkie vas. Kook in water, vuurhoutjie moet deur die skil kan druk dan is dit gaar.

Dreineer. Maak stroop van:

125 ml water

100g wit suiker

10 ml suurlemoensap

Kook goed.

Sit nou die skille in en kook verder tot sag.

Boerejongens

BOEREJONGENS

Verhit:

500 g rosyne, 250 ml water, 200 g witsuiker en 1 stokkie pypkaneel stadig saam tot kookpunt en roer dit aan die begin om die suiker te laat oplos.

Kook dit vir 10 minute oor matige hitte. Giet die stroop af en en plaas die rosyne in warm glasflesse.

Vul die flesse met skoon brandewyn of om die helfte stroop en die helfte brandewyn.

Bedien met roomys.

Mrs Ball's Chutney

MRS BALL'S CHUTNEY

612 g gedroogde perskes
238 g gedroogde appelkose
3 liter bruin dryweasyn
2 1/2 kg wit suiker
500 g uie
12 g sout
7 g rooipeper
1 tot 2 liter bruin druiweasyn vir week van vrugte
Ongeveer 2 liter bruin druiweasyn vir meng
Die vrugte moet in die asyn oornag week, dan gekook word in dieselfde asyn tot sag. Dreineer. Sit die vrugte deur 'n meul. Voeg die suiker (opgelos) en uie (gemaal) by en kook in 'n pot met die bruin druiweasyn. Die hoeveelheid asyn hang af van die vastigheid: dit moet nie te loperig of te dik wees nie, maar het dieselfde vastigheid as die eindproduk wat jy vind in die bottel. Voeg speserye by en kook vir een tot twee uur. Roer af en toe met 'n houtlepel om te verhoed dat dit brand. Steriliseer jou bottels en skep die mengsel in.
 
Hierdie resep kom direk van mrsballschutney.com af.

Perske-en-vanieljekonfyt

Perske-en-vanieljekonfyt

Ek het lospitperskes met wit vleis hiervoor gebruik en daarom die skil aangehou – dit gee ’n mooi kleur. As jy ander lospitperskes gebruik, kan jy dit afskil. 

8-10 lospitperskes, gehalveer, geskil (indien nodig) en ontpit
1 vanieljepeul, in die lengte gehalveer en saadjies uitgeskraap
750 ml suiker
30 ml suurlemoensap
1 ml sout

Kap die perskes fyn en sit in ’n kastrol saam met die vanieljepeule en saadjies, suiker, suurlemoensap en sout. Verhit tot kookpunt en prut, terwyl geroer word, tot die konfyt setpunt bereik. Verwyder die vanieljepeule en bottel die konfyt in gesteriliseerde flesse. Lewer sowat 600 ml konfyt.

Tamatiekonfyt

Tamatiekonfyt

1,2 kg ryp tamaties
Kookwater
Sap van 1 suurlemoen
4 x 250 ml suiker
6 cm stuk vars gemmer, geskil en in stukke van 1 cm gesny
2 ml growwe sout

Bedek die tamaties met kookwater en laat staan vir drie minute. Spoel af met koue water en trek die skille af. Kap fyn. Sit die gekapte tamaties en die suiker in ’n swaarboompot en voeg die suurlemoensap en suiker by. Roer tot die suiker opgelos is. Voeg die gemmer en sout by en verhit tot kookpunt. Kook vinnig, terwyl gereeld geroer word, tot die konfyt setpunt bereik. Skep in gesteriliseerde flesse en verseël dadelik. Lewer 800 ml konfyt.