Friday 15 January 2016

Glutenvrye Brode

Glutenvrye brode

Rysmeelbrood
• Gluten-, suiwel-, suiker- en sojavry
• Allergene: eiers en gis

Maak: 1 brood
Bereidingstyd: 20 minute, plus rystyd
Baktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180 °C

• 250 ml bruinrysmeel
• 250 ml witrysmeel
• 125 ml aartappelstysel
• 30 ml tapioka-meel
• 30 ml rysmelkpoeier
• 1 sakkie (7 g) kitsgis
• 15 ml xylitol
• 15 ml xanthaan-gom
• 3 groot eiers
• 30 ml olie

1 Meng al die droë bestanddele en 5 ml sout. Klits die eiers en olie saam. Voeg 300 ml warm water by die eiermengsel en klits dit weer. Voeg die droë bestanddele by die vloeistof en roer dit tot dit goed gemeng is – dit moet ’n gladde, dik, maar steeds vloeibare beslag wees.

2 Giet die beslag in ’n broodpan wat gevoer en gesmeer is – die pan moet driekwart vol wees. Bedek die pan liggies met ’n klam teedoek en laat dit rys tot dit gelyk is met die borand van die pan. Moenie dit te lank laat rys nie.

3 Bak die brood in die verhitte oond vir omtrent ’n uur, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal dit uit die oond en laat dit eenkant afkoel. Die brood is op sy beste die dag waarop dit gebak is.

Brood met keker-ertjie-meel
• Gluten-, suiwel- en suikervry
• Allergene: eiers, gis, soja, peulgroente

Maak: 1 brood
Bereidingstyd: 20 minute, plus rystyd
Baktyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180 °C

• 3 groot eiers
• 30 ml olie
• 250 ml keker-ertjie-meel
• 280 ml witrysmeel
• 125 ml aartappelstysel
• 35 ml sojameel
• 15 ml xylitol
• 1 pakkie (7 g) kitsgis
• 15 ml xanthaan-gom

1 Klits die eiers, olie en omtrent 250 ml warm water saam. Voeg al die droë bestanddele en 5 ml sout by en roer dit goed.

2 Skep die deeg in ’n broodpan wat gevoer en gesmeer is. Bedek dit met ’n klam teedoek en laat dit omtrent ’n uur eenkant staan om goed te rys.

3 Bak die brood vir ’n uur in die verhitte oond, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Die brood is op sy lekkerste die dag waarop dit gebak is.

Wenke vir glutenvrye brood
Dié brode hoef nie geknie te word nie omdat die meel geen gluten bevat nie. Om presies dieselfde rede sal die tekstuur ook anders wees as dié van gewone brood. Die meeste glutenvrye brood is dig en klam. Moenie die deeg vir te lank laat rys nie. Omdat dit nie gluten bevat nie, sal dit plat val as dit te lank rys.

No comments:

Post a Comment