Tuesday 19 January 2016

Sjokolade-en-karamelkaaskoek

Sjokolade-en-karamelkaaskoek

LEWER 1 X 23 CM-KAASKOEK – GENOEG VIR 8 – 10

KORS
1 pakkie (200 g) veselkoekies (digestive biscuits)
50 g (60 ml) suiker
100 g (110 ml) ongesoute botter, gesmelt
100 g 70%-donkersjokolade, gesmelt
VULSEL
• 1 kg roomkaas
• 210 g (250 ml) strooisuiker
• 25 g (45 ml) koekmeel
• 5 groot eiers, kamertemperatuur • 125 ml room
• 5 ml vanieljegeursel
• 1 x 360 g-blik karamel
BOLAAG
• 165 g fudge
• 125 ml room
• 300 g 70%-donkersjokolade • 80 g witsjokolade

Metode
1 KORS Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n 23 cm-losboom-koekpan met kleefwerende kossproei. Bedek die buitenste rand van die koekpan met foelie en draai dan kleefplastiek om om te keer dat die vulsel uitloop as die pan dalk lek. Plaas koekies en suiker in ’n voedselverwerker en kap tot fyn krummels vorm. Voeg gesmelte botter by en meng goed. Gooi mengsel in koekpan en gebruik vingerpunte om pan daarmee uit te voer. Die mengsel hoef nie tot heeltemal bo teen die rand te kom nie. Gooi gesmelte sjokolade op bodem en smeer plat. Maak pan toe met kleefplastiek en plaas in yskas tot benodig.

2 VULSEL Plaas roomkaas, strooisuiker en meel in mengbak van ’n elektriese menger. Klits goed vir 2 minute. Skraap kante van mengbak skoon. Breek eiers een-een by en klits elke keer goed. Voeg room by en klits goed vir sowat 5 minute. Voeg geursel en karamel by en klits goed.

3 Plaas uitgevoerde koekpan op ’n bakplaat en gooi vulsel in. As al die vulsel in is en niks lek nie, verwyder die kleefplastiek voor jy dit in die oond sit (behou die foelie). Plaas in oond en bak 15 minute. Draai temperatuur af tot 120 °C. Bak nog 1 uur en 45 minute. Haal uit en laat afkoel. Wanneer afgekoel, plaas in yskas – verkieslik oornag. 2

4 BOLAAG Breek fugde in stukke en plaas in ’n kastrol. Voeg room by en plaas op ’n baie lae temperatuur op ’n stoofplaat. Roer sous nou en dan tot gesmelt. Haal af van hitte en gooi in ’n bakkie. Laat heeltemal afkoel by kamertemperatuur. Maak toe met kleefplastiek en plaas in yskas tot benodig. Breek donkersjokolade in stukke en plaas in ’n mengbak wat bo-op ’n kastrol met kookwater sal pas. Haal kastrol af van stoofplaat en plaas bak op kastrol. Laat sjokolade smelt. Skep sjokolade in rugbybal-plastiekvorms (sien bl. 12) en laat hard word by kamertemperatuur. Keer versigtig uit en plak aanmekaar met nog gesmelte sjokolade. Smelt die witsjokolade soos die donkersjokolade. Skep in ’n klein spuitsak en spuit klein strepies op balle. Haal kaaskoek versigtig uit koekpan en plaas op opdienbord. Gooi karamelsous oor en garneer met rugbyballe.

No comments:

Post a Comment