Gestopte rissies (Chilli Poppers)
(Genoeg vir 12 happies)
Bestanddele
• 12 groot jalapeño-rissies
• 100 ml roomkaas
• 100 ml fetakaas
• koekmeel
• olie vir diepbraai
• lemmetjiewiggies vir voorsit
Beslag:
• 200 ml bruismeel
• 125 ml mielieblom
• sout en peper
• sowat 190 ml yswater
• 5 ml suiker
Metode
1 Voorverhit die oondrooster en rooster die rissies droog,
baie na aan die element, tot die skil swart is.
Draai die rissies van tyd tot tyd sodat hulle oraloor
verkleur. Haal uit die oond en sit die rissies in ’n
plastieksakkie dat hulle vir ’n paar minute sweet;
dit help dat die skil makliker loskom.
2 Laat die rissies afkoel tot hanteerbaar en trek
dan die skil af. Maak ’n klein insnyding in die
lengte van elkeen en verwyder die pitte versigtig.
Meng die twee kase in ’n bakkie en stop elke
rissie met ’n lepel vol van die kaasmengsel. Jy
kan die openinge met ’n peuselstokkie toeryg
as jy wil, maar dis nie nodig nie – solank jy net
versigtig werk.
3 Rol die gestopte rissies in meel, skud goed
af en hou dit eenkant. Meng intussen die
deegbestanddele tot net gemeng. Dit maak
nie saak as daar nog klonte in is nie.
4 Verhit die olie in ’n klein kastrol of in ’n
diepbraaier as jy een het. Doop die meelbedekte
rissies een-een in die deeg en braai dit dadelik
in die warm olie. Braai net ’n paar op ’n slag.
Skep die rissies met ’n gaatjieslepel uit en laat dit
eenkant op kombuispapier dreineer. Herhaal met
al die rissies. Sit dit dadelik voor as voorgereg, met
of sonder ’n doopsous, en lemmetjiewiggies.
Variasies:
Vervang die feta in die vulsel met
mozzarella of sagte bokmelkkaas en
pietersielie. Kapokaartappels wat met
suurroom gegeur is, en selfs ’n dik
witsous met stukkies hoender en kaas
in, is ook lekker. ’n Vulsel met ’n sagte
kaas wat nie ’n te skerp geur het nie,
sodat dit die rissie se byt kan teëwerk, is die beste.
No comments:
Post a Comment