Wednesday, 16 March 2016

Bessie-en-appelbier-sorbet


Maak: omtrent 1 liter
Bereidingstyd: 30 minute, plus vriestyd
Gaarmaaktyd: 5 minute

• 500 ml appelbier
• 150 ml suiker
• 350 g aarbeie
• 350 g bloubessies of braambessies
• 30 ml suurlemoensap

1 Gooi die appelbier en suiker in ’n kastrol, verhit dit tot kookpunt en laat dit dan vir drie minute prut voor jy dit van die plaat af haal en eenkant laat afkoel.

2 Verpulp die bessies in ’n voedselverwerker en gooi dit deur ’n sif. Meng die bessievloeistof met die appelbier, voeg die suurlemoensap by en laat dit oornag in die yskas staan.

3 Gooi die sorbetmengsel die volgende dag in ’n roomysmasjien en laat dit loop tot dit gevries het. Gooi dit in ’n houer en hou dit oornag in die vrieskas of tot wanneer jy dit wil voorsit. As jy nie ’n roomysmasjien het nie, kan jy die yskoue sorbetmengsel in ’n vlak bak skep en dit vries. Haal dit uit die vrieskas sodra yskristalle begin vorm en klits dit met ’n vurk. Sit dit terug in die vrieskas en herhaal die proses nog twee of drie keer voor jy dit vries tot dit ferm is.

No comments:

Post a Comment