Wednesday, 9 March 2016

Geroosterde Botterskorsie en Blomkool


’n Vegetariese gereg van geroosterde botterskorsie en blomkool wat net met natuurlike bestanddele gegeur word – komyn, kaneelstokkies, rooibostee en ’n suurlemoen-gegeurde olie. Dan word daar kekerertjies, pampoensade en avokado bygesit om dit ’n maaltyd te maak. Die kombinasie van geure is so lekker, dat ek dit graag as ’n maaltyd eet, want dis alles gesonde bestanddele en regtig vullend. Jy kan baie kreatief wees hiermee, want dis ewe lekker as bygereg met vis, hoender en selfs braaivleis en die perfekte opsie vir middagete by die werk, want dis so maklik om in te pak. Maak dus genoeg die vorige aand.

Bestanddele
45 ml (3 eetlepels) suurlemoen-gegeurde avokado-olie
10 ml (2 teelepels) komynsaad
2 kaneelstokkies, in stukkies gebreek
45 ml (3 eetlepels) rooibostee
sout en peper na smaak
500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
300 g blomkool, in blommetjies gesny
100 ml sonneblom- of pampoensaad
1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer
1 groot avokado, in blokkies gesny
2 skywe fetakaas, gekrummel
handvol elk vars kruisement- en koljanderblare, grof geskeur

Metode
1. Voorverhit oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat met foelie uit.
2. Meng olie, komyn, kaneel en tee in ’n groot mengbak en geur na smaak. Voeg botterskorsie by, en meng goed deur. Plaas botterskorsie en oliemengsel op die bakplaat.
3. Rooster vir 20 minute of tot die botterskorsie net gaar is. Voeg blomkool, sade en kekerertjies by en roer tot goed gemeng.
4. Rooster vir nog 10 minute of tot die blomkool gaar is. Skep op ’n opdienbord en voeg avo, feta en kruie by. Sit warm of teen kamertemperatuur as ’n bygereg voor. Of meng met slaaiblare en sit as ’n slaai voor. Die mengsel is ook ideaal vir ’n vegetariese maaltyd.

Wenk
As suurlemoen-gegeurde olie nie beskikbaar is nie, vervang met gewonde olyf- of avokado-olie en roer 15 ml (1 e) suurlemoensap by die oliemengsel.

No comments:

Post a Comment