Friday 15 April 2016

Sosaties op Spesery-Rys


Hierdie sosaties kan van hoender- of varkvleis gemaak word.
Sosaties
■ 700 g varkboud of hoenderborsies, in blokkies gesny
■ 45 ml ligte sojasous
■ 30 ml soet rissiesous
■ 45 ml olyfolie
■ 3 cm-stuk vars gemmer, fyn gerasper
■ 2 knoffelhuisies, fyn gedruk
■ 5 ml heuning
■ Sap van 1 suurlemoen
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Spesery-rys
■ 50 g botter
■ 1 ui, dun gesny
■ 5 ml fyn komyn
■ 5 ml gemaalde koljander
■ 1 kaneelstok
■ 5 ml gedroogde brandrissievlokkies
■ 250 ml witrys
■ 1 liter ligte hoenderaftreksel
■ Olie, vir braai

Pak die vleisblokkies in ’n nie-metaalbak. In ’n ander bak, meng die sojasous, soet rissiesous, olyfolie, gemmer, knoffel, heuning, suurlemoensap en sout en peper goed en giet oor die vleis. Bedek en verkoel vir minstens 1 uur.

Terwyl die vleis marineer, berei die rys voor. Smelt die botter in ’n kastrol en braai die ui daarin tot amper sag. Voeg die komyn, koljander en kaneelstok by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die brandrissievlokkies en die rys by en roerbraai tot die rys begin verbruin. Voeg die aftreksel by en verhit tot kookpunt. Kook tot die rys gaar en die aftreksel geabsorbeer is. Bedek en laat stoom vir ’n paar minute.

Ryg die vleisblokkies styf teen mekaar op sosatiestokkies. Verhit ’n bietjie olie in ’n swaarboompan en braai die sosaties daarin tot egalig goudbruin en deurgaar. Sit voor op die spesery-rys en bedien met ’n slaai van jou keuse. Lewer 6 porsies.

No comments:

Post a Comment