Tuesday 19 July 2016

Vis Geposjeer in Sous van Lemmetjie, Gemmer en Klapper

Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 40 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute

• 20 ml sonneblomolie
• 1 middelslag-ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngedruk
• 10 ml fyngerasperde vars gemmer
• 1-3 ml droë rissievlokkies
• 2 tamaties, skil en pitte verwyder en in blokkies gesny
• 1 blik (400 ml) klappermelk
• 2 stingels sitroengras, in 2 cm-stukke gesny en gekneus
• 5 ml suiker
• gerasperde skil van 1 suurlemoen
• 500 g koningklip-, stokvis- of ander lynvisfilette van jou keuse
• 15 ml lemmetjiesap
• lemmetjiewiggies en vars koljanderblare, om voor te sit
• murgpampoentjie-spaghetti, om voor te sit

1 Gooi die olie in ’n swaarboomkastrol en verhit dit oor lae hitte. Voeg die ui, knoffel, gemmer en rissie by. Laat dit vir omtrent 30 minute stadig gaar word tot die ui begin karamelliseer. Voeg die tamatie by en laat dit vir nog vyf minute liggies prut.

2 Voeg die klappermelk, sitroengras, suiker en suurlemoenskil by en laat dit vir nog 10 minute prut.

3 Voeg die stukke vis by en laat dit liggies prut vir 5-8 minute tot die vis net-net gaar is en maklik vlok.

4 Voeg die lemmetjiesap by en geur dit na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper. Garneer die vis met lemmetjiewiggies en koljanderblare en sit dit saam met die murgpampoentjie-spaghetti voor.

Murgpampoentjie-spaghetti
Sny die punte van 500 g murgpampoentjies af. Sny die murgpampoentjies in dun repies met ’n mandolien. Verhit 15 ml olyfolie in ’n groot pan. Voeg die murgpampoentjierepe by en roerbraai dit liggies vir 3-5 minute tot dit net-net sag is. Voeg ’n bietjie botter by en geur dit na smaak.

No comments:

Post a Comment