Tuesday 19 January 2016

Kaas-en-kruiebrood

Kaas-en-kruiebrood

Dink jy jy het te min tyd vir brood bak? Dink weer.
Jy roer hierdie beslag binne minute bymekaar. Hierdie broodjie is nie net verspot maklik om te maak nie, dis onverbeterlik by braaivleis, saam met sop of vir ontbyt. Eet dit louwarm met plaasbotter en cheddarkaas.

■ 80 ml olie
■ 80 ml melk
■ 2 ekstragroot eiers
■ 500 ml koekmeel
■ 250 ml gerasperde, sterk kaas (ek het ’n mengsel van Gruyère en cheddar gebruik)
■ 10 ml bakpoeier
■ 3 ml sout
■ 125 ml gekapte, vars kruie van jou keuse (’n mengsel van pietersielie, kruisement, basiliekruid en tiemie is heerlik)

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n middelslag-broodpan met olie. Klits die olie, melk en eiers saam. In ’n ander bak, meng die res van die bestanddele en maak ’n holte in die middel.

Voeg die melkmengsel daarby en maak aan tot ’n dik beslag. Skep in die voorbereide pan en bak vir 1 uur tot deurgaar. Laat vir 20 minute in die pan afkoel en keer dan op ’n draadrak uit om verder af te koel. Lewer 8-10 snye.

No comments:

Post a Comment