Friday 15 January 2016

Kerriemaalvleis Vetkoeke

KERRIEMAALVLEIS-VETKOEKE
 
Varsgebakte vetkoek met heerlike kerriemaalvleis is sinoniem met kerkbasare, kermisse en feeste en is deesdae 'n tradisie wat ons met al ons landgenote deel. Die meeste supermarkte verkoop deeg waarmee jy brood, rolletjies en selfs vetkoeke kan bak. Bestel dit sommer vooraf.
 
VULSEL
30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 klein wortel, gerasper
5 ml matige kerriepoeier
3 ml borrie
'n knippie fyn komyn
300 g maalvleis
sout en varsgemaalde swart peper
5 ml worcestersous
60 ml beesvleis- of groente-aftreksel
15 ml fyn appelkooskonfyt
'n hand vol koljanderblare, grofweg gekap
 
VETKOEKE
500 g gekoopte brooddeeg 
kookolie vir diepbraai
 
METODE
1 Verhit die olyfolie in 'n kastrol en braai die ui, knoffel en wortel vir 'n minuut daarin.
2 Roer die kerriepoeier, borrie en komyn by. Braai vir nog 'n paar minute tot geurig.
3 Roer die maalvleis by en braai tot amper gaar.
4 Geur met die sout en peper en meng die worcestersous, aftreksel, konfyt en koljanderblare by. Laat prut vir ongeveer
10 minute.
5 Verhit intussen die kookolie vir diepbraai terwyl die kerriemaalvleis prut.
6 Knie die deeg liggies op 'n meelbestrooide werkoppervlak en vorm balle wat 'n bietjie groter as 'n gholfbal is daaruit. Druk dit effens plat met jou hand.
7 Sodra die olie warm genoeg is, druk elke deegbal weer met jou hande plat en laat sak dit versigtig in die warm olie. Braai tot goudbruin en gaar. Haal uit en dreineer op kombuispapier.
8 Sny die vetkoeke halfpad oop sodra dit taamlik afgekoel het.
9 Skep kerriemaalvleis daarin en sit voor
 

No comments:

Post a Comment