Friday 29 January 2016

Lemoen-amandelkoek

Lemoen-amandelkoek

Maak die beslag twee keer aan vir ’n dubbellaagkoek.

Bereiding 20 minute
Gaarmaaktyd 40 minute
Baktyd 40-60 minute
Lewer 1 koek (12 snye)

KOEK
2 groot lemoene
6 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
300 g fyn amandels
5 ml (1 t) bakpoeier
45 ml (3 e) mielieblom
’n paar druppels amandelgeursel

STROOP (OPSIONEEL)
250 ml (1 k) vars lemoensap
60 ml (1⁄4 k) strooisuiker of heuning 1 vanieljepeul

BOTTERVERSIERSEL
500 g botter
1 kg gesifte versiersuiker
oranje, geel en pienk voedselkleurseljel vars tuinrose en heuning vir afronding

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 20 cm-koekpan.

Koek Plaas die lemoene met skil en al in kookwater en kook sowat 30 minute of tot sag. Dreineer, verwyder die pitte en kap fyn in ’n voedselverwerker.
Klits die eiers en strooisuiker saam tot lig en dik. Meng die amandels, bakpoeier en mie- lieblom en vou dit om die beurt met die fyn lemoene by die eiermengsel in. Voeg die geursel by en skep in die pan. Bak 40-60 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Stroop Kook intussen al die bestanddele 10 minute saam en giet dit oor die warm koek.
Botterversiersel Klop die botter tot glad en romerig en klits die versiersuiker by. Voeg ’n lepel of wat warm water by as dit te dik is.
Gebruik ’n groterige spuitsak met ’n rosetspuitpunt. Spuit ’n lyn van elke kleur kleurseljel in die spuitsak. Skep botterversiersel in die middel en druk liggies teen die jel aan die kante vas. (Die jel gee veelkleurige strepe aan die versiersel.) Spuit groterige sirkels oor die hele koek. Spuit klein blommetjies hier en daar.
Rond af met die vars rose. Drup die heuning oor die rose om doudruppels te vorm.

No comments:

Post a Comment