Soufflé-omelet
Dié soet soufflé-poeding sal nooit platval nie!
genoeg vir 2
Bestandele
4 eiers
100 g (125 ml) strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
70 g (140 ml) koekmeel
175 g vars bloubessies
50 g versiersuiker
250 g-houer mascarpone-kaas
bessies en kersies vir voorsit
Metode
Verhit oond tot 180 °C. Spuit twee kleefvrye, oondvaste panne van 25 cm in deursnee goed met kleefwerende kossproei. Skei eiers. Klits eiergele, 1/3 van strooisuiker en vanielje saam met elektriese klitser tot dik en skuimerig. Klits eierwitte tot sagte punte vorm. Terwyl jy klits, gooi oorblywende suiker geleidelik by tot blink en styf. Vou eierwitmengsel by eiergeelmengsel in met slaplemmes. Vou meel ook in. Verhit die twee voorbereide panne tot warm oor hoë hitte. Verdeel mengsel tussen die twee warm panne en sprinkel bloubessies oor.
Bak 10 – 12 minute of tot uitgepof en gaar. Haal uit oond en vou in helfte met hulp van eierspaan. Keer uit op opdienbord en sif versiersuiker oor. Verhit metaalpen tot warm en brand kruispatroon op soufflé. Skep mascarpone op en pak bessies en kersies bo-op. Sit voor.
No comments:
Post a Comment