Saturday 16 January 2016

Twee Gevreetjies

Twee Gevreetjies

WAT JY BENODIG:
 
Doppies:
 
500gram botter (kamertemperatuur)
1 koppie strooisuiker
1 eetlepel Vanieljegeursel
1 eier
4 koppies bruismeel
 
Vulsel:
 
2 & 1/2 koppies fyn klapper
1 koppie suiker
1 koppie water
2 stokke kaneel
Vanieljegeursel
 
Versiering bo op:
 
2 koppies versiersuiker
+ - 4 eetlepels melk
1 druppel pienk voedselkleursel
1 teelepel vanieljegeursel
2 eetlepels kakaopoeier
 
MAAK SO:
 
Klappervulsel:
 
Maak eerste jou klappervulsel aan, in 'n klein pot of kastrol, voeg die klapper, suiker, water en kaneel by en kook op medium hitte vir ongeveer tien minute of totdat al die suiker en water opgelos is. Voeg vanieljegeursel by, roer, en sit eenkant om te laat afkoel.
 
Deeg vir die doppies:
 
Met 'n elektriese menger, klits die botter en suiker vir ongeveer 3 minute totdat dit lig en romerig is, voeg die eier en vanieljegeursel by en klits vir 'n verdere 2 minute. Voeg nou al die meel by en meng dit in met jou hand tot 'n deeg vorm. Moenie in die versoeking kom om meer meel by te voeg nie, dit is 'n baie sagte deeg. Bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas vir 'n uur. Op 'n meelbestrooide oppervlak rol die deeg uit tot 'n 1 cm dikte, sny met deeg koekiedrukker of ronde koekiedrukker, maak seker dat jy die koekiedrukker met bietjie meel bedek om te verhoed dat die deeg vasklou daaraan. Smeer jou pan met botter, dit moet die hertzoggie pan of dop pan wees.
 
Volgende: Gooi genoeg klappervulsel op die deegdoppies en druk dit plat sodat jy ten minste 2 teelepels per doppie kan inkry.
 
Bak nou in 'n voorverhitte oond op 'n 180 grade vir 10-12 minute. Haal uit en laat afkoel. Jy kan so min of meer 50 koekies uit hierdie resep kry.  Nadat dit bietjie afgekoel het, haal dit uit die pan met 'n bottermes.
 
Vir die versiersel, meng die versiersuiker, vanieljegeursel en melk totdat jy 'n byna stywe versierselmengsel kry. Verdeel die versiersel in twee klein bakkies. In die een voeg jy die pienk voedselkleursel by en roer goed. In die ander bak voeg die kakao poeier en 1 eetlepel melk en roer tot goed gekombineer. Soos gesien op die foto, skep 'n halwe teelepel van elke kleur (helfte/helfte) bo-op die koekies.  Laat dit staan om te set.
 
WENK:  Toets eers die digtheid van jou versiersel deur eers een koekie te doen en te kyk of dit te loperig is, as dit is gooi net nog klien bietjie versiersuiker by en roer goed.  Die veriersel moenie oor die koekie se rante gaan en drup nie.
 

No comments:

Post a Comment