Thursday 4 February 2016

Bevrore Bloubessie-jogurt

Bevrore bloubessie-jogurt

Bessies is nie net fantastiese somervrugte in die lieflikste helder kleure nie, maar bevat ook ’n klomp antioksidante wat help om die vrye radikale te beveg wat liggaamselle beskadig en selfs laat doodgaan. Antioksidante help om jou gesond te hou en verskeie studies het al getoon dit kan help om hartsiektes, kanker en ander siektetoestande te keer.

Maak: 8-10
Bereidingstyd: 15 minute, plus yskas- en vriestyd
Gaarmaaktyd: 10 minute

• 50 ml suiker
• 150 g bloubessies
• 1 kg-houer gewone jogurt

1 Verhit die suiker en 50 ml water in ’n kastrolletjie. Roer tot die suiker oplos, voeg die bloubessies by en verhit dit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat dit vir vyf minute prut, tot die stroop verdik het. Laat eenkant afkoel en sit dan vir 30 minute in die yskas. Sit terselfdertyd die vorms in die vrieskas. (Ons het metaalvorms en klein jogurtbakkies gebruik.)

2 Gooi die jogurt in ’n roomysmasjien en laat dit loop tot die mengsel dik en amper bevrore is. As jy nie ’n roomysmasjien het nie, kan jy die jogurt in ’n vlak bak gooi en vir 30 minute vries. Breek dan die yskristalle met ’n vurk op en herhaal die proses nog twee of drie keer.

3 Skep van die bloubessiesous in die vorms, skep ’n laag jogurt bo-oor, gevolg deur nog bloubessies. Hou aan lae skep tot die vorms vol is. Sit vir 15 minute in die vrieskas.

4 Druk nou ’n soliede lepel of roomysstokkie in die middel van elke houer. Vries dit oornag. Doop die vorms vir drie sekondes in kookwater en trek die lollies aan die lepels of stokkies uit.

No comments:

Post a Comment