Thursday 4 February 2016

Melktert-poeding

Melktert-poeding

Lynsaad bevat fito-estrogeen en sojamelk isoflavone, wat albei cholesterol kan verlaag. Omega 3 is baie belangrik vir jou hart en kom voor in lynsaad, hawermout én eiers. Boonop bevat kaneel fitonutriënte wat ook goed is vir jou hart.

Genoeg vir: 4
Bereidingstyd: 25 minute
Gaarmaaktyd: 10 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

• 500 ml sojamelk
• 1 kaneelstokkie
• 1 groot omega 3-verrykte eier
• 45 ml bruinsuiker
• 60 ml mielieblom
• 5 ml vanieljegeursel
• fyn kaneel om voor te sit

Basis
• 350 ml hawermout
• 50 g pekanneute
• 50 ml lynsaad
• 50 ml botter, gesmelt

1 Gooi die sojamelk en kaneelstokkie in ’n kastrol en verhit dit tot dit net begin kook. Haal van die plaat af. Klop die eier en suiker saam, gooi ’n bietjie van die gekookte melk daarby en roer goed. Gooi die eiermengsel by die melk en meng goed. Sit terug op die stoof en laat prut vir twee minute – roer die heeltyd.

2 Meng die mielieblom met ’n bietjie water tot ’n pasta. Gooi ’n bietjie van die melkmengsel by die mielieblompasta en roer goed. Gooi in die kastrol. Roer goed deur en laat liggies prut vir vyf minute of tot die mengsel verdik het. Haal die kaneelstokkie uit en gooi dit weg. Roer die vanieljegeursel by. Laat afkoel en roer gereeld sodat daar nie ’n velletjie bo-op vorm nie.

3 Maak die basis deur die hawermout oor ’n bakplaat te strooi en dit vir 10 minute in die verhitte oond te laat rooster. Laat effens afkoel. Gooi dan die geroosterde hawermout, neute en lynsaad in ’n voedselverwerker en pols tot fyn. Voeg die gesmelte botter by en pols weer tot gemeng. Gooi die basis-mengsel in glase of klein ramekins en skep die melktertmengsel bo-op. Sit warm of koud voor met fyn kaneel.

No comments:

Post a Comment