Thursday 4 February 2016

Bros Varklies

Bros varklies

Beïndruk jou gaste met dié maklike Oosterse dis.

Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 20 minute
Gaarmaaktyd: omtrent 2 uur
Oondtemperatuur: 220 °C

• 1,5-2 kg stuk varklies aan die been met die vel aan
• ½ ui, in dik ringe gesny
• 1 wortel, grofgekap
• 6 steranyssade
• 15 ml Chinese vyfspeserypoeier
• 10 ml grondboonolie
• 2 knoffelhuisies, fyngedruk
• 10 ml gerasperde vars gemmer
• 80 ml sojasous
• 100 ml heuning
• 80 ml droë sjerrie
• 2-6 gedroogde rooi rissies
• 4 sprietuie, in skyfies gesny

1 Sit die varklies in ’n groot kastrol en bedek dit met water. Voeg die uieringe, wortel en twee steranyssade by en verhit dit tot kookpunt. Verlaag die hitte, sit die deksel op en laat dit vir 20 minute prut. Haal dan die varklies uit die water en sit dit op ’n draadrak om heeltemal droog te word.

2 Gebruik ’n skerp mes en sny dia-mante in die vel wanneer die vark-lies droog is. Vryf die vyfspesery-poeier oor die onderkant van die lies. Sprinkel ’n bietjie growwesout oor die vel en vryf dit in.

3 Sit die varklies op ’n rakkie in ’n oondroosterpan en sit dit in die oond wanneer dit goed warm is. Rooster dit vir 20 minute, verlaag die hitte tot 150 °C en rooster dit dan vir nog 1½-2 uur of tot die vleis sag is.

4 Maak die sous terwyl die vleis rooster: Verhit die grondboonolie in ’n kastrol. Voeg die knoffel en gemmer by en soteer dit vir ’n paar minute voor jy 80 ml water en die orige bestanddele (behalwe die sprietuie) byvoeg en vir nog vyf minute laat prut. Voeg die sprietuie by en prut dit vir nog drie minute. Haal dit van die plaat af en hou dit eenkant.

5 As die speklaag nog nie behoorlik bros is nie, kan jy dit vir nog ’n paar minute onder die roosterelement sit. Haal die varklies uit die oond wanneer dit reg is, maar laat dit vir 20 minute rus voordat jy dit in blokke sny en saam met die sous voorsit.

No comments:

Post a Comment