’n Lekkergoed-termometer is altyd gerieflik en lewer goeie resultate wanneer lekkers gemaak word. Met Turkse lekkers is dit nie so ’n vereiste nie, want die vloeistof word gekook en geset met gelatien.
Die geur van die Turkse lekkers is belangrik – te veel rooswater of te veel suurlemoensap kan dit ook bederf.
Wat wel belangrik is, is dat die suiker opgelos moet wees voordat dit kook.
Lewer 50 blokkies.
Bestanddele:
30 ml (2 e.) gelatien
60 ml (¼ k.) water
500 ml (2 k.) suiker
30 ml (2 e.) mielieblom
200 ml (¾ k.) water
3 ml (½ t.) rooswater
’n druppel rooi kleursel
30 ml (2 e.) versiersuiker
30 ml (2 e.) mielieblom
Metode:
1. Week die gelatien in die water en hou oor kookwater om op te los.
2. Meng die suiker en mielieblom in ’n kastrol. Voeg die 200 ml water by en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is.
3. Kook omtrent 5 minute lank oor stadige hitte. Verwyder van hitte en voeg die rooswater, kleursel en gelatien by.
4. Gooi uit in ’n gesmeerde bak of pan van omtrent 14 x 23 cm. Laat staan omtrent 8 uur lank of tot styf en sny dan in blokkies, omtrent 2 cm in grootte. Rol in mengsel van gelyke dele versiersuiker en mielieblom.
5. Bêre dit in ’n lugdigte houer.
Variasie
Vervang die rooswater met 15 ml (1 e.) vars suurlemoensap.
No comments:
Post a Comment