Tuesday, 1 March 2016

Mieliemeel Paptert

MIELIEMEEL bly maar altyd gewild, omdat dit so vullend, voedsaam en goedkoop is.

Dit is tradisioneel om pap saam met ’n tamatie-en-uiesmoor te bedien, en ook natuurlik saam met gebraaide boerewors.

Hierdie resep vir mieliemeelpap-tert het ’n redelik sagte tekstuur as gereg of dis, maar deur die mieliemeel stywer te kook kan die tert gebak word sodat dit in skywe gesny kan word.

Dit word maar bepaal deur persoonlike smaak! (Lewer 6-8 porsies.)

Bestanddele:

1 F (4 k.) water

250 mF (1 k.) mieliemeel

3 mF (½ t.) sout

15 mF (1 e.) kookolie

1 mediumgroot ui, fyngekap

250 g swoerdlose streepspekvleis, gekap

250 g knopiesampioene, in skywe gesny

3 medium tamaties, fyngekap

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

60 mF (¼ k.) vars room, opsioneel

100 g (1 k.) gerasperde cheddarkaas

Metode:

1. Bring water tot kookpunt in ’n swaarboomkastrol. Voeg die mieliemeel en sout by en roer deeglik. Prut ongeveer 12 minute tot gaar. Roer af en toe.

2. Verhit olie in ’n swaarboompan. Soteer ui en spekvleis ’n paar minute lank tot sag. Voeg sampioene, tamaties en geurmiddels by en laat prut dit ’n paar minute totdat die meeste van die vloeistof afgekook is. Voeg room by, indien gebruik.

3. Skep die pap op die bodem van ’n groot oondvaste bak. Skep die tamatie-en-uiemengsel bo-op.

4. Sprinkel gerasperde kaas bo-oor die uiemengsel en bak ongeveer 20 minute in ’n voorverhitte oond teen 180 °C.

Variasies:

Hoe om ander papsoorte te kook:

Stywepap:

Kook ’n liter (4 k.) water in ’n swaarboomkastrol. Voeg sout en 750 mF (3 k.) mieliemeel by sonder om te roer.

Verlaag die hitte en prut dan ongeveer 10 minute. Roer om die mieliemeel en water te meng en prut verder ongeveer 30 minute.

Krummelpap:

Kook 750 mF (3 k.) water in ’n swaarboomkastrol. Voeg sout en 1 liter (4 k.) mieliemeel by sonder om te roer.

Verlaag die hitte en prut dan ongeveer 10 minute. Roer met ’n vurk om die mieliemeel en water te meng totdat dit krummelrig in tekstuur is.

Prut verder ongeveer 30 minute.

No comments:

Post a Comment