Só maak ons Viëtnamese rolletjies
Moenie dink hierdie resep is moeilik of vreemd nie – dis baie gesond en makliker as wat jy dink!
12 velle ryspapier
30 ml olyfolie
500 g steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 wortel, in stokkies gesny
10 cm-stuk komkommer, in repe gesny
hand vol koljanderblare, fyngekap
Vir doopsous:
1 knoffelhuisie, fyngekap
3 cm vars gemmer, skoongemaak en fyngerasper
15 ml brandrissiesous
15 ml vissous
60 ml sojasous
Verhit sowat 30 ml olyf olie in ‘n pan en braai die steurgarnale vir 5 minute aan weerskante tot gaar. Geur met sout en peper na smaak. Laat eenkant afkoel tot benodig. Plaas ’n vel ryspapier op ’n skoon werkvlak. Besprinkel met water en smeer met jou vingers oor papiervel.
Draai om en herhaal proses aan ander kant. Pak steurgarnale, wortel, komkommer en koljander op ryspapier, maar los ’n rand van sowat 3 cm aan een kant. Vou dié rand bo-oor bestanddele. Vou dan die buitenste twee punte na binne en rol stewig op. Plaas onder ’n klam doek tot later benodig. Plaas al die bestanddele van die sous in ’n klein mengbakkie en roer goed met ’n teelepel. Pak die rolletjies op ’n opdienbord en sit voor met doopsous.
No comments:
Post a Comment