Wednesday 13 April 2016

Camembert-brood


Voorbereityd 20 minute

Gaarmaaktyd 45 minute

Jy benodig:

4 koppies broodmeel

½ teelepel sout

1 sakkie (10 g) kitsgis

1 teelepel suiker

2 koppies louwarm water

1 eetlepel oliebotter

2 heel (125 g) camembertkaaswiele

SO MAAK JY:

Meng die meel en sout in ’n groot bak. Roer die gis en suiker in by 1 koppie louwarm water. Sodra dit begin skuim, kan jy dit in die middel van die meel inskink. Begin die meel en gis met ’n houtlepel meng en hou aan om bietjies water by te gooi totdat jy ’n taamlike klam maar kniebare deeg het.

Knie die deeg vir ’n paar minute, bedek dit dan met ’n vadoek en laat dit vir sowat 30 minute in ’n warm plek staan om te rys.
Smeer intussen ’n klein pot se binnekant met botter. Sodra die deeg in grootte verdubbel het, knie jy dit weer af en vorm ’n plat sirkel.

Sit die twee wiele camembert in die middel van die deeg neer en vou die res van die deeg bo-oor om dit heeltemal toe te maak. Knyp die deegrande deeglik toe, anders gaan die kaas in die pot uitloop.

Sit die brood – soomkant na onder – in die pot. Laat dit vir 20 minute rys en bak dit dan met ’n paar kole op die deksel vir sowat 45 minute oor matige kole.

Dop die brood uit en laat dit ’n rukkie afkoel voor jy dit sny en saam met konfyt as voorgereg geniet.

No comments:

Post a Comment