Saturday 16 April 2016

Piesang- en Karamelkaaskoek


Hierdie resep is vir liefhebbers van kaaskoek en piesangs. Om die kaaskoek stadig in die oond te laat afkoel help keer dat dit bo-op kraak.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 1 uur
Rus: 2 uur

300 g gemmerkoekies, in stukke gebreek
125 g botter, gesmelt
4 x 250 g roomkaas, versag
300 g suurroom
200 ml (¾ k) strooisuiker
4 eiers
10 ml (2 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) kaneel
PIESANGKARAMELSOUS
125 ml (½ k) strooisuiker
30 g botter
200 ml (¾ k) room
1 piesang, in skywe gesny

Voorverhit die oond tot 150 ˚C. Smeer ’n 20 cm-veerpan. Voer die bodem en kante met bakpapier uit.

Verwerk die koekies in ’n verwerker tot fyn. Voeg die botter by. Verwerk tot gemeng. Skep in ’n pan en sprei met ’n glas met reguit kante oor die bodem uit en druk vas. Sit vir 30 min. in die koelkas of tot ferm.
Verwerk die roomkaas, suurroom en suiker in ’n skoon verwerker tot glad. Voeg die eiers, gemmer en kaneel by. Verwerk tot glad. Giet die mengsel in die pan.
Plaas op ’n bakplaat. Bak 1 uur of tot amper geset. Skakel die oond af en los die pan 2 uur in die oond met die deur op ’n skreef oop om af te koel. Verkoel in die koelkas.
PIESANGKARAMELSOUS Giet die suiker in ’n braaipan oor matige hitte. Sodra die suiker aan die kante begin smelt, voeg die botter by. Sodra gesmelt, giet die room in terwyl jy met ’n klopper roer tot goed gemeng. As enige suikerkorrels oorbly, gooi deur ’n sif.
Voeg die skywe piesang by die karamel en sit eenkant om af te koel. Skep die sous oor die kaaskoek en sit voor.

No comments:

Post a Comment