Monday 18 April 2016

Suurlemoensmeertert


Die suurlemoensmeer is reg wanneer jy ’n 8 met ’n lepel daarin trek en dit behou die vorm ’n paar sekondes lank.

Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min
Genoeg vir 6 mense

Kors
30 ml (2 e) gemengde neute, gerooster
200 ml (¾ k) meel
60 ml (¼ k) versiersuiker
’n knippie sout
100 g botter
1 eiergeel
45 ml (3 e) olyfolie
Suurlemoensmeer
3 groot suurlemoene, skil en sap
200 ml (¾ k) strooisuiker
10 ml (2 t) mieliemeelblom
2 eiers plus 2 eiergele
100 g botter, in blokkies gesny
suurlemoenskywe vir garnering

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n 20 cm-losboomtertpan.

Kors: Blits die neute saam met die meel, suiker en sout in ’n verwerker tot fyn. Voeg die botter by en pols tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk met ’n paar klein botterklonte. Voeg die eiergeel en olie by en pols tot net gemeng en ’n baie sagte deeg gevorm het.
Versprei die deeg egalig oor die bodem en teen die kante van die bereide pan. Bak die kors 10 min. of tot goudkleurig. Verplaas na ’n rak om heeltemal af te koel (sowat 30 min.).
Suurlemoensmeer: Klits die suurlemoenskil en -sap, suiker, mieliemeelblom, eiers en eiergele in ’n middelslagkastrol en bring tot kookpunt oor matige hitte terwyl jy 3 min. aanhou klits. Verwyder van die hitte en klits die botter in tot glad.
Giet die suurlemoensmeermengsel in die heeltemal afgekoelde kors en verkoel 2 uur in die koelkas of tot ferm bo-op. Garneer met suurlemoenskywe

No comments:

Post a Comment