Tuesday 24 May 2016

Dadel en Brandewynpoeding


Lewer 8 - 10 porsies.
’n Donker, ryk dadelpoeding met ’n skeppie geklopte room daarby bly darem maar lekker
op ’n koue dag.
Ek het die poeding in ’n ringkoekpan gebak, maar as jy verkies om dit in ’n oondbak
te bak, gebruik ’n bak van
20 cm x 30 cm.
Die karamelsous bo oor is opsioneel en baie dekadent, maar as jy nie skrik vir ’n
bietjie oordaad nie, sit dit by.
Dis heerlik.
250 g dadels - fyn gesnipper
5 ml koeksoda
250 ml kookwater
120 g sagte botter
180 ml suiker
1 ekstragroot eier
250 ml bruismeel
3 ml bakpoeier
knippie sout
5 ml kaneel
5 ml fyn gemmer
1 x 100 g pakkie pekanneute - fyn gekap
Voorverhit die oond tot 180 ° C.
Smeer ’n ringkoekpan van 22 cm of ’n middelslag oondbak met botter.
Sit die gesnipperde dadels in ’n bak, sprinkel die koeksoda oor en gooi die kookwater
oor.
Roer liggies en laat staan eenkant.
Verroom intussen die botter en suiker en voeg die eier by, klits goed.
Voeg die koekmeel, bakpoeier, sout, kaneel, gemmer en pekanneute by.
Meng goed en skep in die voorbereide pan of bak.
Bak vir 45 minute of tot ’n toetspen skoon uit die poeding kom.
Terwyl die poeding bak, maak die brandewynstroop.
BRANDEWYNSTROOP
375 ml suiker
125 ml water
125 ml brandewyn
10 ml vanielje geursel
30 ml botter
geklopte room - roomys of vla om voor te sit
Verhit die suiker, water en brandewyn saam, terwyl jy roer tot die suiker gesmelt
is.
Verhit tot kookpunt en prut vir 2 - 3 minute.
Verwyder van die hitte en roer die vanielje geursel en botter by.
As die poeding gaar is, haal dit uit die oond en laat vir ongeveer 15 minute in die
pan afkoel.
Keer uit op ’n opdienbord met ’n lip, sodat stroop wat dalk uitloop in die bord bly.
Laat die koek vir nog 15 minute afkoel.
Verhit die stroop tot net onder kookpunt.
Gooi van die vuurwarm stroop oor die poeding tot alles geabsorbeer is.
Sit voor met geklopte room, vla of roomys en karamelsous, indien verkies.
KARAMELSOUS - lewer 750 ml sous.
250 ml gouestroop
310 ml klam bruinsuiker
60 ml botter
250 ml room
Verhit die stroop, bruinsuiker en botter stadig oor lae hitte tot die suiker gesmelt
is.
Verhit tot kookpunt en laat dit vir 5 minute prut terwyl jy gereeld roer.
Roer die room by, verhit weer tot kookpunt.

No comments:

Post a Comment