Wednesday 13 July 2016

Heerlike Hoender Op Suurlemoenrys


Jy benodig vir vier:

8 hoenderdye

sout en peper

15 ml elk botter en olie vir braai

1 groot ui, fyngekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

500 ml Spekko-witrys

750 ml of meer warm hoender-aftreksel

skil van 2 suurlemoene en sap van 1
1 suurlemoen in dun skywe

suurlemoenwiggies vir opdiening

gekapte pietersielie vir oorstrooi

Maak dan só:

Voorverhit oond tot 180 °C. Geur hoenderstukke goed met sout en peper. Verhit die botter en olie in ’n oondvaste kasserolbak of diep pan en braai die hoender tot goudbruin, 5 tot 8 minute. Skep uit en hou eenkant.

In dieselfde pan braai jy die uie tot sag en deurskynend, roer die knoffel by en braai nog ’n minuut. Stoot die uie eenkant en voeg die rou rys by. Roer deur om met die olie te bedek en braai goudbruin. Hier en daar sal korrels selfs begin pof. Roer die gebraaide uie deur die rys en voeg die hoenderaftreksel en suurlemoenskil en -sap by.

Pak die hoenderstukke bo-op die rys en druk die suurlemoenskywe hier en daar in. Plaas deksel op en bak sowat 25 minute in die oond, totdat die rys gaar en donsig is en die hoender gaar. (Indien nodig, voeg in die kookproses nog aftreksel by.) Haal deksel af en bak nog 5 tot 8 minute.

Strooi pietersielie oor en dien op met suurlemoenwiggies, ontpitte groen olywe, gekrummelde feta en ’n groot bak Griekse slaai.

No comments:

Post a Comment