Sunday 17 July 2016

Sitrusgegeurde Beesstert


Dis ’n lang lys bestanddele, maar moenie kortpaaie vat nie – die geure vul mekaar aan. Die vleisies kook só sag dat dit van die been af val.

Vir 6 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 4 uur

Jy benodig

• 2 eetlepels olyfolie of botter
• 2 eetlepels koljandersade, gekneus
• 1 eetlepel swartpeperkorrels
• 4 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 groot wortels, fyngekap
• 2 selderystingels, fyngekap
• 10 heel babauie, geskil
• 1,4 kg beesstert, in stukke gesny (vra jou slagter)
• 400 g beesstowevleis, in stukke gesny
• ½ koppie meel
• 3 koppies rooiwyn
• 3 koppies beesvleisaftreksel
• 3 lourierblare
• 2 kaneelstokkies
• 1 bossie tiemietakkies
• 2 clementines (of enige ander sitrusvrug)
• 2-4 eetlepels sojasous
• 1 bossie pietersielie, gekap
• 1 bossie krulkool (kale), gekap

Só maak jy

1. Plaas die olie, koljander en swartpeper in ’n pot en verhit dit totdat die olie warm is. Roer die knoffel, wortel, seldery en uie daarby en roerbraai vir 10 minute tot geurig.
  
2. Plaas die vleis en meel in ’n sak en skud dit goed sodat die vleis oraloor bedek is. Roerbraai die vleis vir 5 minute saam met die groente en speserye in die pot. Voeg dan die rooiwyn by, bring die pot tot kookpunt en laat dit vir 5 minute vinnig prut. Voeg dan die aftreksel, lourierblare, kaneelstokkies en die helfte van die tiemietakkies by.

3. Sny die een clementine middeldeur en pak die twee helftes bo-op die vleis. Sit die deksel op en laat die pot vir sowat 4 uur oor ’n baie lae temperatuur prut totdat die vleis van die been af val. (Jy kan ook die pot vir 4 uur lank met sy deksel op teen 140 °C in die oond sit.)

4. Druk die warm clementine se sap oor die bredie uit en gooi dit weg. Rasper die ander clementine se skil oor die bredie en druk sy sap ook daaroor uit. Proe, en geur na smaak met sojasous. Stroop die oorblywende tiemieblaartjies van die takkies af en sprinkel dit saam met die gekapte pietersielie oor. Sit dit voor met die gesoteerde krulkool.

No comments:

Post a Comment