Wednesday 17 August 2016

Piesang-en-Kerrie Frikkadelle


Ingestuur deur Lynette Muller

Frikkadelle:
1 groot ui, fyngekap,
12,5 ml olie,
2 dik snye dagoue witbrood, korsies afgesny, geweek in 75 ml melk
1 tot 2 geelwortels, grofgerasper,
1 ekstra-groot geklitste eier,
800 g maer gemaalde beesvleis,
50 ml blatjang,
25 ml asyn,
15 tot 20 ml sout,

Na Smaak:
varsgemaalde peper,
knippie naeltjies,
neutmuskaat en Worcestersous

Kerriesous:
15 ml olie + 15 ml botter
3 uie oorlangs gehalveer, geskil en in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, gekneus en fyngedruk saam met 5 ml sout
12,5 ml sterk kerriepoeier
12,5 ml borrie
3 ml fyn gemmer
3 ml fyn kaneel
1 ml rooipeper of na smaak,
75 ml asyn
50 ml blatjang
25 ml sagte bruinsuiker
50 ml appelkooskonfyt
varsgemaalde peper na smaak
500 ml water
6 tot 10 baie ryp, amper oorryp piesangs, in skywe gesny en met suurlemoensap bedek

Frikkadelle:
Braai die ui in olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Laat eenkant afkoel. Druk oortollige melk uit die geweekte brood en maak brood met ‘n vurk fyn. Skep brood, geelwortels en eier oor vleis. Moenie meng nie. Skep die blatjang en asyn bo-oor en geur met sout, peper, neutmuskaat, naeltjies en Worcestersous. Meng met ‘n groot tweetandvurk al die bestanddele liggies, maar deeglik deur. Moenie knie en druk aan die mengsel nie. Vorm 12 frikkadelle. Rangskik in ‘n enkellaag in ‘n gesmeerde oondskottel, bedek en plaas in koelkas.

Kerriesous:
Skep olie en botter in ‘n diep kastrol en verhit oor matige hitte tot botter gesmelt is. Voeg uie by en braai tot dit sag en deurskynend is, maar definitief nie bruin nie. Voeg knoffel en sout by en roerbraai vir ‘n minuut. Strooi speserymengsel en borrie bo-oor en roerbraai tot ‘n sterk geur die lug intrek. Roer gemmer, kaneel en rooipeper by en voeg bietjies van asyn op ‘n keer by. Stootskraap sodat deeltjies wat aan kastrol se boom kleef, kan oplos. Wees versigtig dat mengsel nie aanbrand nie. Voeg konfyt, blatjang, suiker, peper en helfte van water by. Verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en laat prut vyf minute. Voeg res van water by, verhoog hitte, verhit weer tot kookpunt en kook nog 10 tot 15 minute. Roer af en toe.

Verwyder die sous van die hitte en roer die piesang by. Haal die frikkadelle uit die yskas en skep die warm sous oor. Bak 40 – 45 minute in ‘n voorverhitte oond van 160°C totdat die vleis gaar is. Bedien met rys.

Sit voor met sambals, soos tamatie- en uie, klapper en ‘n brandsous soos warm blatjang of soetrissiesous. .

No comments:

Post a Comment