Sunday 21 August 2016

Hongaarse Frikkadelle


Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 40 minute, plus yskastyd
Gaarmaaktyd: 30 minute

• 40 ml botter
• 1/2 ui, fyngekap
• 500 g maer beesmaalvleis
• 125 ml vars witbroodkrummels
• 1 groot eier, liggies geklits
• 1 ml karwysaad
• sonneblomolie, vir braai
• 10 ml meel
• 250 ml aangemaakte of tuisgekookte groente- of beesvleisaftreksel
• 1 x 410 g-blik tamatiepuree
• 10 ml soet Hongaarse paprika
• 125 ml suurroom
• kapokaartappel of pasta, om voor te sit
• gekapte platblaarpietersielie, vir garnering

1 Verhit die helfte van die botter in ’n pan, soteer die ui daarin tot dit sag is en skep dit uit die pan.

2 Voeg die ui by die maalvleis. Roer die broodkrummels, eier en karwysaad by en geur dit goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Rol die mengsel in klein bolletjies en sit dit vir minstens 30 minute in die yskas.

3 Verhit ’n dun lagie olie in ’n pan en braai die frikkadelle in sarsies – dit sal omtrent vyf minute neem om deurgaar te word. Skep die frikkadelle uit die pan en hou dit eers eenkant.

4 Sous Smelt die orige botter in ’n kastrol. Roer die meel by. Voeg die aftreksel bietjies-bietjies by en roer dit elke keer goed sodat daar nie klonte vorm nie. Voeg die tamatiepuree en paprika by. Laat dit vir 5-10 minute prut tot die sous verdik. Roer die helfte van die suurroom by.

5 Skep die sous oor die frikkadelle en sit dit voor met kapokaartappel of pasta. Garneer dit met pietersielie en die orige suurroom.

No comments:

Post a Comment