Friday 9 September 2016

Kortpad-Souttert

Daar is min dinge so lekker soos brosgebakte blaardeeg wat gevul is met smelt-in-die-mond-kaas, bros spek en suikersoet kersietamaties. Dit klink dalk na baie werk, maar soos julle my kombuis ken, is daar altyd ’n kortpad om te neem.

Dit sorg vir al die lekker sonder al die werk!

Tamatie-en-spek-souttert

genoeg vir 6

• 2 velle blaardeeg, gesny in sirkels met 20 cm-deursnee
• 250 g gekapte spek
• 200 g beleë cheddarkaas, gerasper
• 200 g kersietamaties, gehalveer
• 1 eier, liggies geklits

Verhit oond tot 180 °C. Spuit ’n bakplaat goed met kleefwerende kossproei. Plaas een vel blaardeeg op die bakplaat. Sprinkel spek, kaas en tamaties oor. Plaas tweede vel bo-op. Seël die kante stewig deur met vingerpunte op die deegrand te druk. Maak paar snytjies op die deeg met skerp mes se punt – jy kan self besluit hoe baie. Verf die deeg met eier en plaas in warm oond. Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin en bros. Sny in skywe en sit warm voor met groenslaai of as peuselhappie.

No comments:

Post a Comment