Thursday 4 February 2016

Gevlekte Lamsboud

Gevlekte lamsboud

Genoeg vir: 8
Bereidingstyd: 45 minute, plus marineertyd
Gaarmaaktyd: omtrent 1 uur

• 1 lamsboud, ontbeen en gevlek (vra jou slagter om dit te doen)
• olyfolie
• 60 ml droë witwyn
• 2 knoffelhuisies, fyngedruk
• 15 ml grofgekapte vars roosmaryn
• 30 ml bruinsuiker

Sous
• 60 ml sjerrie-asyn
• 60 ml olyfolie
• 15 ml bruinsuiker
• 15 ml elk fyngekapte vars ment en pietersielie
• 3 sprietuie, fyngekap
• 5 ml gerasperde suurlemoenskil

Groente
• 1 bakkie baba-rosatamaties
• 1 eiervrug, in skywe gesny en met sout besprinkel
• 4 soetmielies
• 60 ml botter
• mikrokruieblaartjies of roket, om voor te sit

1 Gebruik ’n skerp mes en maak snytjies in die vetlaag van die lamsboud. Meng 50 ml olyfolie met die wyn, knoffel, roosmaryn en suiker. Sit die vleis in ’n verseëlbare sak, gooi die marinade by en verseël die sak. Smeer die marinade oraloor die vleis en laat dit vir ’n uur eenkant marineer, of sit dit oornag in die yskas.

2 Haal die vleis uit die marinade wanneer jy gereed is en laat die ekstra marinade afdrup. Braai dit vir vyf minute aan ’n kant oor matige tot warm kole tot dit mooi bruin is. Lig die rooster hoër en rooster dit vir nog 40-60 minute oor matige tot flou kole tot dit so gaar is soos wat jy dit verkies. Verf die vleis met die orige marinade terwyl jy dit rooster. Jy sal dalk later weer die rooster moet laat sak soos die kole kouer word.

3 Haal die boud van die rooster af, bedek dit liggies met ’n stuk foelie en laat dit vir 10 minute eenkant rus. Sny dit in dun skywe en pak dit op ’n opdienbord.

4 Meng al die bestanddele vir die sous saam en skep dit oor die vleis. Pak die tamaties, bereide eiervrugskywe (sien stap 5) en soetmielies (sien stap 6) ook op die opdienbord en garneer dit met mikrokruie of roket. Sit dit voor met die pastaslaai.

Partytjiehoedens

5 Eiervrug Vee die sout van die eiervrugskywe af. Drup lekker baie olyfolie oor die eiervrug en geur dit met varsgemaalde swartpeper. Rooster dit oor matige kole tot die eiervrug bruin en sag is.

6 Soetmielies Kook die soetmielies vir vyf minute en laat dit behoorlik dreineer. Rooster dit oor matige warm kole tot dit begin bruin word en sag is. Smeer ’n bietjie botter oor elkeen sodra jy dit afhaal en geur dit met sout en peper. Sny elke soetmielie in vier stukke.

No comments:

Post a Comment