Thursday 4 February 2016

Suikervry: Ongebakte Sjokolade-kaaskoek

SUIKERVRY: Ongebakte sjokolade-kaaskoek

Stevia is ’n groen blaarplant van Suid- Amerika, waar dit eeue lank gebruik is vir goeie spysvertering en om wonde mee te verbind. Dis deesdae in poeier- en vloeistofvorm te kry as ’n plaasvervanger vir suiker. Stevia het verskeie voordele, sê Sally-Ann Creed, ’n voedingkundige van Kaapstad. Dis kilojoule-vry én die veiligste opsie as dit by versoeters kom. Stevia is baie soet en jy het min nodig. Jy kan dit op sy eie gebruik, of die helfte van die suiker in ’n resep daarmee vervang. Stevia het ’n nasmaak as jy te veel gebruik – gaan dus spaarsaam te werk!

Maak: 1 x 20 cm-kaaskoek of 16 mini-kaaskoeke
Bereidingstyd: 20 minute, plus yskastyd

Kors
• 10 sjokolade-hawermoutkoekies of ander suikervrye koekies, fyngemaak
• 50 ml gesmelte botter

Vulsel
• 20 ml gelatien
• 250 g roomkaas, teen kamertemperatuur
• 150 ml suurroom of gewone jogurt, teen kamertemperatuur
• 1,5 ml steviapoeier
• 80 ml kakaopoeier, plus ekstra om oor te sif
• frambose, om voor te sit

1 Kors Meng die koekiekrummels en gesmelte botter saam en druk dit in ’n liggies gesmeerde 20 cm- veerklamppan of individuele koekpannetjies vas. Hou in die yskas.

2 Vulsel Sprinkel die gelatien oor 20 ml water. Laat dit swel en smelt dit dan in die mikrogolfoond.

3 Klits die roomkaas, suurroom of jogurt, suiker (indien gebruik), stevia en kakao saam tot glad. Meng ’n bietjie van die roomkaas- mengsel by die gelatien in en meng dan die gelatienmengsel by die orige roomkaasmengsel in. Gooi oor die kors en laat vir vier uur of oornag in die yskas stol.

4 Gebruik ’n warm paletmes om die kaaskoek los te maak. Sif ’n bietjie kakao oor en sit voor met frambose of ander vars vrugte.

No comments:

Post a Comment