Monday 25 January 2016

Groentekerrie

GROENTEKERRIE

2 eiervrugte, in kwarte gesny
sout en peper
45 ml olie
2 uie, gekap
3 knoffelhuisies, gekap
5 ml fyngekapte vars gemmer
6 kardemompeule, fyngedruk
5 ml brandrissievlokkies
10 ml borrie
5 ml komynsaad
6 tamaties, gekap
2 aartappels, in blokkies gesny
gewone jogurt
’n hand vol koljander
’n hand vol kruisement

1 Plaas die eiervrug op ’n skinkbord en bestrooi met sout. Laat staan 15 minute sodat die vog kan uittrek.

2 Verhit die olie in ’n pot oor matige hitte en soteer die uie, knoffel en gemmer tot die uie sag is. Voeg die fyngedrukte kardemom, brandrissievlokkies, borrie en komynsaad by en roer om die speserye liggies te rooster.

3 Voeg die tamaties en aartappels by en giet genoeg water oor om te bedek. Laat prut 20 minute.

4 Verbruin die eiervrug bietjie vir bietjie in ’n kleefvrye pan. Voeg dit by die pruttende tamatiemengsel en kook tot sag.

5 Geur met sout en peper. Voeg jogurt by na smaak en bestrooi met gekapte koljander en kruisement.

No comments:

Post a Comment