Saturday, 5 March 2016

Kaaskoek Kolwyntjies


Nou hierdie resep is ek seker gaan 'n groot treffer in almal se huise word! Dit is bietjie aan die duur kant om te maak, maar die geld en die moeite werd... Hierdie resep werk die beste in silikon muffinkoppies - spuit dit deeglik met kleefwerende middel (ek vind die papier muffinkoppies is geneig om bietjie vas te sit - silikon dop makliker uit).

30 g amandels
30 g pekan neute
60 g botter
knippie sout
2 eiers
5 ml vanilla geursel
30 ml suurlemoensap
450 g roomkaas, saggemaak
125 ml sucralose-versoeter

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer of spuit 10 silikon muffinkoppies deeglik en plaas op 'n bakplaat. Kap die amandels en pekan neute goed fyn in 'n voedselverwerker. Smelt die botter en meng dit met die neute en sout. Verdeel die mengsel tussen die muffinkoppies en druk goed op die boom van elke koppie vas.
Klits die eiers, vanilla, suurlemoensap, roomkaas en sucralose goed saam. Verdeel die mengsel tussen die muffinkoppies. Bak vir 15-20 minute tot die bokant van die kaaskoekies begin verkleur. Die kaaskoekies mag dalk nie heeltemal gestol wees nie, maar dit stol soos dit afkoel. Skakel die oond af, maar laat die kaaskoekies in die oond afkoel (laat die oonddeur op 'n skrefie oop). Keer die kaaskoekies versigtig uit en laat in die yskas tot opdiening.
Lewer 10 Kaaskoekies

No comments:

Post a Comment