Friday 8 April 2016

Gebakte Klapperroomkaramel


375 ml suiker
100 ml kookwater
250 ml dik room
1 blik (400 ml) klapperroom
5 ml vanieljegeursel
5 eiers

Smeer ’n oondvaste pan of bak van 20 cm liggies met botter. Verhit die suiker en kookwater oor baie lae hitte tot die suiker gesmelt is. Roer aanhoudend. Sodra ál die suiker opgelos is, verhoog die hitte en verhit die suikerstroop tot kookpunt.

Kook vinnig, sonder om te roer, tot die stroop ’n diep karamelkleur het. Gooi dit dadelik in die voorbereide pan en sit dit in ’n bak met yswater om te verhinder dat die karamel verder kook en bitter word. Sodra dit ophou kook en begin hard word, haal uit die koue water en laat staan eenkant.

Voorverhit die oond tot 150 °C. Verhit die room en klapperroom saam tot kookpunt en prut vir 3-4 minute. Verwyder van hitte en roer vanieljegeursel by. Klits die eiers in aparte bak tot goed gemeng. Giet eiers in ’n dun straaltjie by roommengsel in terwyl aanhoudend geroer word.

Giet roommengsel versigtig oor harde karamel en sit pan in ’n groter bak met genoeg water om halfpad teen die kante van die pan op te kom. Bak vir sowat 45 minute, tot net-net ferm. Haal uit die warmwaterbad en bedek met foelie. Laat staan vir minstens 4 -5 uur tot kamertemperatuur. Keer uit of verkoel oornag en sit die volgende dag voor.

Lewer 8-10 porsies.

No comments:

Post a Comment