Friday 8 April 2016

Heel Braaikabeljou In Uiekors


Hoewel die vis regstreeks op die warm kole gebraai word, dien die uiekombersie as ’n buffer om die vog binne te hou en verseker dat die vis nie net braai nie, maar ook stoom. Die vel aan die binnekant dien ook as ’n waterdigte skerm wat keer dat die vog verdamp. Die eindresultaat is ’n baie sappige vis en ’n klomp gelukkige gaste wat weglê aan die gereg.

■ 5 ml paprika
■ 10 ml koljandersaad, fyngestamp
■ 3 ml gedroogde brandrissie
■ 2 ml borrie
■ 50 ml sojasous
■ 150 ml olyfolie
■ 2 groot uie, fyngekap
■ 2 knoffelhuisies, fyngedruk
■ 1 kabeljou van ongeveer 1 kg (of ’n soortgelyke braaivis), oopgevlek
■ Growwe sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Kry ’n braaivuurtjie aan die gang. Maal al die speserye met ’n vysel in ’n stamper om ’n speserymengsel bekend as masala te maak. Meng die sojasous, olyfolie en masala in ’n mengbak. Sit die helfte van die mengsel eenkant voordat jy die uie en knoffel by die ander helfte voeg.

Sorg dat die rooster op die regte vlak bo die kole is – ongeveer die hoogte van twee bakstene op mekaar. Die kole moet nogal warm wees. Vou die gevlekte kabeljou met die binnekant na buite, sodat die velkante binnetoe wys en die vleisgedeeltes buite sit. Plaas die vis op die rooster en sit die rooster op die kole, maar moenie toeknyp nie.

Smeer die bokant goed met die helfte van die uiemengsel. Braai 1 minuut lank en draai dit dan stadig en versigtig om sodat die uiekors nie heeltemal afval nie. As hier en daar afvalstukkies op die kole beland, sal dit net ’n lekker rokerige geur aan die vis verleen. Terwyl die kant van die uiemengsel braai, moet jy die bokant van die rooster oplig om seker te maak die vis sit nie daaraan vas nie.

Smeer die ander helfte van die uiemengsel aan die kant wat nou bo lê. Draai die rooster om en braai nog 2 minute lank aan elke kant. Bedruip die vis gedurig met die sousmengsel wat jy vroeer eenkant gesit het. Draai die rooster om en braai nog 2 minute lank.

Herhaal die proses na gelang van hoe dik die vis is. Maal growwe sout en swartpeper oor die vis voor jy dit die laaste keer op die rooster plaas. Haal die vis versigtig van die rooster af en sit voor met ’n vars groen tuinslaai, gegeurde rys of roerbraaigroente. Lewer 6 porsies.

No comments:

Post a Comment