Thursday 14 July 2016

Bief Wellington


As jy spekvleis gebruik, moet dit rugspek wees. Streepspek bevat soveel vet dat die gereg nie suksesvol sal wees nie.

Jy benodig (vir 4-6 mense):

Vir die vulsel:

olyfolie

1 ui, grofgekap

1 knoffelhuisie, fyngedruk

2 takkies vars tiemie

15 ml vars pietersielie, gekap

500 g sampioene, grofgekap

Filet:

sout en peper

1 kg beesfilet

30 ml Dijon-mosterd

8-10 repe rugspek (opsioneel)

1 rol bevrore skilferdeeg, ontvries

1 eier, geklits

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit die oond tot 170 °C.

2. Vulsel tussen die vleis en die skilferdeeg: Verhit olyfolie in ’n pan en braai die ui sowat 2 minute. Voeg die knoffel by en braai nog 1 minuut. Voeg die vars kruie by en braai ’n paar sekondes. Voeg die sampioene by en braai tot al die sap uitgebraai het.

3. Vir die filet: Geur die filet met sout en peper. Verhit olyfolie in ’n braaipan en verseël die vleis rondom. Verwyder van hitte en laat 2 tot 3 minute afkoel.

Bestryk die filet met Dijon-mosterd en hou eenkant.

4. Plaas vier stukke kleefplastiek in oorvleuelende lae op ’n werkvlak. Plaas die spekvleisrepe in ’n laag op die kleefplastiek en daarna die vulsel. Plaas die filet bo-op die vulsel aan die bopunt van die kleefplastieklaag. Rol dit styf oor die filet op en laat staan 15 tot 20 minute in die yskas.

5. Rol die skilferdeeg op ’n skoon werkvlak uit. Verwyder die kleefplastiek van die filet en vou die skilferdeeg om die filet. Sorg dat die vleis aan alle kante bedek en die deeg verseël is.

6. Bestryk met die geklitste eier en bak 25 tot 30 minute in die oond tot die deeg goudbruin is en die filet so gaar soos jy daarvan hou.

No comments:

Post a Comment