Thursday 14 July 2016

Jamaikaanse "Jerk"-Hoender


Hoender met Jamaikaanse skop en ’n verfrissende pynappelsalsa.
Genoeg vir 2.

Jy benodig:

2 wit uie

50 g vars gemmerwortel

1 knoffelhuisie

15 g vars tiemieblaartjies

2 rooi rissies

5 ml gemengde speserye

5 ml swartpeper

125 ml witwynasyn

125 ml donker sojasous

6 hoenderdye (met die vel aan)

Vir die pynappel-salsa:

1 pynappel

15 ml strooisuiker

1 rooi rissie

60 ml mentblare

60 ml koljanderblare

die sap en skil van 1 lemmetjie

2 cm vars gemmerwortel

Só maak ’n mens:

1. Marineer die hoender oornag (of vir ’n maksimum van 24 uur) vir die beste smaakresultate. Om die marinade te maak, skil die uie en plaas in ’n voedselverwerker. Verwerk tot fyngekap. Skil die gemmerwortel en rasper dit by die uie in die voedselverwerker. Skil die knoffel en voeg dit, asook die tiemieblaartjies (sonder enige takkies) by. Verwyder die saadjies van die rissies en voeg ook by. Verwerk nou die mengsel saam tot baie fyn. Voeg die speserye, peper, asyn en sojasous by en verwerk weer tot goed gemeng.

2. Plaas die hoender in ’n bak en skep die marinade oor. Meng sodat dit al die vleis bedek. Sit die bak se deksel op of maak toe met kleefplastiek en plaas in die yskas. Draai die hoender halfpad deur die marineertydperk om.

3. Wanneer jy gereed is om die vleis gaar te maak, voorverhit die oond tot 200 °C.

4. Plaas ’n riffelpan op die stoof en verhit tot baie warm. Plaas die hoender met die velkant na onder in die riffelpan en verbruin aan albei kante (moenie die marinade weggooi nie). Geur met sout terwyl jy dit verbruin.

5. Sit nou die hoender in ’n oondvaste bak en giet die marinade oor. Bak 15 minute per kant of tot deurgaar en sit voor saam met jou gunsteling-stysel soos kapokaartappels of rys en natuurlik die pynappel-salsa.

6. Om die salsa te maak: Skil die pynappel en sny in 2 cm-blokkies. Rasper die lemmetjieskil en die gemmer baie fyn oor die pynappelblokkies. Sprinkel die strooisuiker oor en voeg ook die lemmetjiesap by. Verwyder die rissie se saadjies en kap fyn. Roer dit saam met die fyngekapte kruie by die salsa. Laat dit marineer vir so lank as wat die hoender neem om gaar te word.

No comments:

Post a Comment